Die Lichtenburgstam
Nuusblad van die Greeff en verwante families. Nr 1, 24 September 2007.
Indeks van vorige uitgawes.
Home

Die Lichtenburgstam is die naam van een groot familie, 'n familie wat almal aan mekaar verwant is omdat hulle direkte afstammelinge of aangetroude familie is van Kommandant Hendrik Adriaan Greeff, die stigter van die dorp Lichtenburg in Noordwes. Hendrik en sy vrou Suzanna Redelinghuis het 14 kinders gehad, 86 kleinkinders, 138 agterkleinkinders, 183 agter-agterkleinkinders en 227 op die volgende geslag. Dan is daar reeds 33 sewende geslag kinders. Wie gaan die eerste wees om ‘n agtste geslag aan te meld? Saam met die aangetroudes, is daar altesaam 1 003 lede van een groot familie! Dit is egter net die mense wat ons op rekord het. Daar is ook honderde mense wat nog nie opgeteken is nie! Elkeen wat hierdie nuusbrief ontvang dra Hendrik Adriaan se indrukwekkende gene of is familie van so iemand.

 Hendrik Adriaan se dogter, Nonnie Greeff, het vir jare die Britse magte ontwyk omdat sy met 5 van haar eie kinders en ‘n onbekende en waarskynlik wisselende aantal ander kinders in 'n wa in die veld rondgeswerf het. Na die oorlog het sy 'n boek oor haar ervaringe geskryf: Mijne Omswerwingen Gedurende den Oorlog, wat in Europa gepubliseer is, en ook in Engels vertaal is. Baie is al oor Nonnie, die volksleier, geskryf (http://www.greeff.info/tng01/booksaboutgreeff.php). Nonnie verskyn ook in die ongetelde boeke en dokumente wat oor Generaal Koos de la Rey geskryf is, omdat sy met hierdie merkwaardige man getroud was. Hulle afstammelinge is deel van die groter Lichtenburgstam. Nonnie en Generaal de la Rey het 12 kinders en 24 kleinkinders gehad waarvan ons tot dusvêr weet en daar is uiteraard reeds talle ander nageslagte.

 Hendrik Adriaan het, onwetend, in 1862 'n tradisie geskep wat vandag nog wye steun geniet. As jong man was hy en sy hele gesin op trek, sonder water en na aan dood van dors. Hy bid vir water, en hoor 'n stem wat sê: "Kyk in die boom". Hy doen dit, en vind 'n holte in die boomstam wat vol water is - net genoeg om hom en sy trek tot by die volgende water te laat oorleef.
http://www.greeff.info/tng01/Documents%20to%20link/Books/Storiesuitdieoudae/File001
2-5.jpg

 Uit dankbaarheid doen hy gelofte aan God dat hy op sy vyftigtse verjaarsdag na die boom sal terugkeer en dank betuig. Hy het sy vyftigste verjaarsdag by die boom gevier, en dit was die eerste saamtrek van die familie wat daar plaasgevind het. Na hom het talle van sy kinders en kleinkinders hulle vyftigste verjaarsdae ook by hierdie besondere plek in die klipveld, ongeveer 25 km Noord-oos van Lichtenburg, by die boom gevier. Elke keer het dit 'n saamtrek van die familie veroorsaak. Hier is 'n foto van Kolonel G J Greeff (Oupa Jan) se vyftigste verjaarsdagviering in 1920 (http://www.greeff.info/tng01/showmedia.php?mediaID=124), en 'n foto van my eie vyftigste in 1993 (http://www.greeff.info/tng01/showmedia.php?mediaID=363). In 1978 was daar 'n groot, georganiseerde saamtrek van Greeffs en ander afstammelinge van Hendrik Adriaan by die boom. Verskeie boeke oor hom, die familie en die geskiedenis van die boom het die lig gesien.

 Tradisie bied aan elkeen in die Lichtenburgstam 'n geleentheid om op 'n interressante wyse sy eie familie saamtrek te geniet. Om jou 50ste verjaarsdag by die boom te vier, kontak my gerus sodat ek jou kan help om met al jou neefs en niggies in aanraking te kom.

 

'n Brief aan ons Kuiernet
Elke maand sal een van die briewe aan die Kuiernet in ons nuusblad herhaal word.

 http://archiver.rootsweb.com/th/index/GREEFF/
From:
"Louis van Niekerk"
Subject:
[GREEFF] 'n storie
Date:
Fri, 20 Jul 2007 23:03:35 +0200

 Hi Julle almal, smaak my dis so semi storiedag vandag, die beeste , vinger etc

 My Oorle pa had my die vertel, maar vir die geloofwaardigheid van die inhoud kan ek nie verantwoordelikheid aanvaar nie, net vir die weergee.

 My Oupa Louis van Niekerk, eggenoot van Kowie Greeff, Dogter van Gabriel Johannes, was maar 'n redelike karakter gewees, en het op 'n stadium, in die laat jare 20, vroeg dertigs, betrokke geraak met skaapsmokkelary in die betsjoeanalandprotektoraat gebied. Die feit dat dit smokkel genoem is, het dit uiteraard lekkerder, maar onwettig gemaak.

 Ewenwel, hys later gevang en as straf moes hy toe vir twee jaar land uit. PERSONA NON GRATA. Hy moes toe in Swaziland loop bly vir twee jaar, en Ouma (Kowie) besluit toe dis die ideale geleëntheid om te gaan leer en haar te bekwaam as Vroedvrou. (Na afloop hiervan het sy die "HOME" op Coligny bedryf vir baie jare) Meer hieroor later.

 Die vraag ontstaan toe, wat nou met die kinders (net Pa Jan en sy Ouboet Fanie het in die weergawe wat ek gehoor het, gefeature) gemaak? Daar word toe besluit dat hulle vir die twee jaar by oupa en ouma in Johannesburg sal loop bly (Of dit oupa en ouma Greeff of Van Niekerk was, weet ek nie) Maar nou kom die kruks van waaroor die hele storie gaan eintlik!

 Oupa Louis het sy twee seuns Jannie (4) en Fanie (6) elkeen in 'n houtkrat toegespyker met 'n botteltjie water en 'n rietjie en 'n stuk brood by hulle, en so loop trok hy hulle toe op die stasie. (het darem gereel dat die twee kratte langsmekaar staan)

 Dit was vroegoggend.

 Agtermiddag ses uur het oupa hulle op Johannesburg stasie by die goedereloods geloop haal, Kratte oopgemaak en sy twee kleinseuns huistoe gevat!!!

 DANKIE TOG TYE HET VERANDER!!!!!

 Julle weet, ons praat altyd van ou mense wat sus en so was, maar dis eintlik verkeerd, want mense kalm gewoonlik af as hulle oumense word. Ons moet eintlik praat van die outyd se mense.

 Grootste groetstenis

 Louis van Richardsbaai

 

Die Storie agter die Skildery

Kommandant Hendrik Adriaan Greeff, stigter van Lichtenburg, is in 1828 gebore en in 1884 oorlede. Voor sy dood het iemand 'n skildery van hom gedoen, en een van sy vrou, Suzanna Redelinghuys. Die skilder se naam is onbekend, maar beide skilderye het in besit van die stadsraad gekom, waar hulle vir byna 'n eeu lank in die stadsraad se geboue gehang het. Met tyd is hulle van die mure verwyder en in 'n stoorkamer gegooi. Daar het die skildery van Hendrik Adriaan 'n gat dwarsdeur gekry, en die motte het nog gate daarin gevreet. Die skildery van sy vrou is op een of ander stadium weggegooi, vir ewig verlore.

 Gedurende die jare sewintig het een van Hendro Greeff se familielede, Kowie van Niekerk, die verwaarloosde antieke skildery agter 'n kas, op die vloer, gekry. Toe sy navraag daaroor doen het die stadsraadslede gesê dat sy dit maar kan vat, want dit is so verniel dat hulle dit in elk geval net gaan weggooi. Van haar af is die skildery aan Hendro Greeff se ouma oorgedra, en van haar af na hom.

 As gevolg van epos korrespondensie wat ontstaan het uit die bestaan van die familie webblad, www.Greeff.info, het Hendro vir Jan Greeff van die skildery vertel en hy weer vir Francois Greeff, stigter van die Greeff familie webblad. Francois het onmiddellik vir Hendro teruggeskryf, en die oorspronklike korrespondensie is die moeite werd om te bewaar:

 -----Original Message-----
From: Ina Greeff [mailto:hag@global.co.za]
Sent: 07 June 2007 07:32 PM
To: Jan & Jua
Subject: Skildery

Hallo Jan
Ek stuur vir jou 'n foto van H A Greeff. Die oorspronklike skildery is in my besit en het vanaf tannie Kowie gekom. Dit het altyd in die Lichtenburg stadsaal gehang en het baie jare terug verdwyn. Ek skat dat dit in die 70tigs moes wees toe sy gaan soek het na dit en blykbaar het sy dit agter 'n kas ontdek, van die motte gevreet en gaatjies in. Sy het toe beslag daarop gelê en dit effens laat restoureer en dit het later via my ouma, Dorothy (Granny) weer in my besit gekom. Daar is skade op dit, maar ek het voorlopig 'n foto daarvan geneem en die skade met Photoshop herstel en stuur dit aan jou. Ek is van plan om dit weer te laat restoureer, maar moet eers die regte persoon vind. Een van my goeie kliënte is die bekende skilder Niek van Rensburg en hy sal dalk weet wie kan help. Hyself is te besig om geld te maak met skilder. Ek kan ook 'n beter foto neem as ek tyd vind en dit dan weer digitaal regmaak en laat druk op canvas. Mens sal die oorspronklike gevoel kry aangesien selfs die krakies in die ou skildery wys. Sodra ek alles reg het sal ek weer laat weet.

 Ek het ook ander fotos van onder andere oupa Jan in die kamp by Umbilo en byskrifte agterop. Ek sal dit moet skandeer maar sover nie veel geluk nie. Sal dalk hulp inroep. Iewers is nog fotos wat ek sal vind met die regpak wat tans aan die gang is. Ek het die webtuiste baie interessant gevind en sal van tyd tot tyd aandag gee en inligting gee soos beskikbaar. Ina hou nogal ook van dit en sal ook help.

 Groete
Hendro

 From: Jan & Jua
To:
Francois Greeff
Sent:
Tuesday, June 12, 2007 10:16 PM
Subject:
FW: Skildery

 Hi daar Francois,
Hier is Hendro se relaas.

Groete,
Jan.

 ----- Original Message -----
From:
Francois Greeff
To:
grewe@verslank.net
Cc:
hag@global.co.za
Sent:
Wednesday, June 13, 2007 3:09 PM
Subject:
Re: Skildery

 Jan,
Doen my 'n guns en vat 'n groot stok en slaan jou neef Hendro daarmee. Slaan hom todat hy daardie skildery professioneel laat herstel en restoureer. Die beste wat hy kan doen is om 'n Nasionale Kunsmuseum te nader en te vra wie hulle restourasie doen. Hy moet besef dat daardie skildery swamme en lewende organismes bevat wat besig is om die ding al verder op te vreet. Ek eis onmiddelike aksie! Hy is in besit van 'n waardevolle item van ons nasionale volksgeskiedenis, en dit plaas 'n verantwoordelikheid op hom. Dit is sy plig!

 Vra hom ook mooi asseblief om die ander fotos (met agterkante) so gou as moontlik te dupliseer sodat daar 'backup' afskrifte van hierdie geskiedkundige bronne tot stand kom, en in die besit van ander mense kom. Ek sal dit baie graag op ons Greeff Familie webblad wil plaas, sodat die hele familie toegang het daartoe.

 Hendro, Jan, hoe voel julle twee daaroor dat ons 'n register van Historiese Besittings open, en op die Greeff Familie Webblad aanteken wie huidig in besit is van enige histories belangrike items (bv. geweer lisensies en rewolwer, die skildery, ens). Soos wat hierdie items van eienaar verander kan die register opgedateer word, en navorsers van die toekoms sal dan ook 'n vertrekpunt vir navorsing hê. Die kern van my argument lê daarin dat die BESTAAN van die enigste volkleur skildery van HA Greeff, in die wereld, tot dusver aan die wereld onbekend was. As die bus vir Hendro getrap het, kon iemand dit dalk weggegooi het.

 Hendro, ek stel ook voor dat jy:
1. Vir my asseblief gedetaileerde fotos van die skildery, in huidige toestand, stuur asseblief. 'n Foto van die hele skildery, van voor en van agter, en dan detail beelde van beide kante, en die raam. Let op vir klein gaatjies in die raam, hulle dui op kewers. Ek sal die fotos op die Greeff Familie webblad plaas.
2. Die skildery professioneel by 'n restoureerder laat herstel. Laat weet as jy geld nodig het, en ook hoeveel.
3. Bring VANDAG agterop die skildery 'n duidelike kennisgewing aan wat dit onmiddelik duidelik maak dat hierdie skildery 'n artikel van nasionale belang en waarde is, EN, tweedens, wat daarmee gedoen moet word as die bus jou trap. Aan wie dra jy die verantwoordelikheid van besit dan oor? Bly die skildery dan in die land? Skryf die volledige geskiedenis van die skildery ook in die dokument wat jy agterop aanbring. Meld pertinent dat die dokument nooit van die skildery geskei moet word nie. (Maak, bv, 'n dik koevert met drukspykers agter aan die raam vas. Die brief gaan saam restoureerders toe.)

 Vergewe my as ek aanstoot gee, maar jy verdien om geslaan te word, want tot dusver het jy jou plig versuim. Ek voel miskien te sterk oor hierdie dinge, en gevolglik is my woordkeuse miskien nie gepas nie. Ek het voorheen in die antieke mark handel gedryf, en ek het keer op keer gesien hoe amateurs met goeie bedoelinge 'n waardevolle item vernietig het, deur blote onkunde. Wees asseblief baie versigtig om 'n RESTOURASIE deskundige aan te stel vir die restourasie van die skildery. 'n Professionele skilder weet nie noodwendig genoeg oor die behandeling van swamme en infeksies in die materiaal nie.

 Ek vra weer eens om verskoning as ek aanstoot gee.

 Vriendelike groete,
Francois Greeff

 Onder die tug van hierdie brief het Hendro hoflik gebieg, en onmiddelik werk daarvan gemaak om die skildery te laat restoureer. Soos wat in paragraaf twee voorgestel is, laat weet hy dan ook vir Francois in Londen dat die restourasie R2 400 sal kos.

 Francois het nie vir een oomblik gehuiwer nie. Hy het onmiddellik vrywilligers in die familie gevra om te dien as tesouriers van 'n nuwe Greeff familie bankrekening, wat dae later in Pretoria geopen is. Teen hierdie tyd was die skildery en die bankrekening algemene gesprek op die kuiernet, en Francois het die leiding geneem deur tien persent van die skildery se geld te skenk, en terselfde tyd almal te vra om ook 'n donasie te maak. Binne enkele dae het die restourasiefonds op R1 960, 00 gestaan, en daar staan hy vandag nog. 'n Skamele R440,00 onder die mikpunt. (http://www.greeff.info/tng01/Greeffbank.php).

 'n Register van Historiese Bates is as gevolg van hierdie korrespondensie geopen sodat elkeen van ons weet watter items van belang vir die familie in bestaan is, en wat waar bewaar word. (http://www.greeff.info/tng01/RegisterHistoricalAssets.php)

 Daar is baie mense wat die skildery van waarde ag bloot omdat dit 'n item van Nasionale belang is vir ons volksgeskiedenis, eerder as die enigste bestaande antieke skildery van een van hulle voorouers. Byans die helfte van die mense wat tot dusver geld vir die restourasie geskenk het, insluitende Francois self, is nie afstammelinge van Hendrik Adriaan Greeff nie!

 Ek doen nou 'n beroep op die afstammelinge van Hendrik Adriaan om die orige R440 te skenk. Nie alles deur een familielid nie, maar soveel as wat jy voor kans sien. Hierdie skildery is die enigste van ons beroemde voorouer wat bestaan, en ons het 'n plig om dit vir ons nageslag te bewaar. Om 'n donasie te maak is maklik:

 Maak 'n tjek uit aan: DIE GREEFF FAMILIEREKENING, NR 62146224499.

 

Pos die tjek dan aan:
Eerste Nasionale Bank
Kolonade Tak
Posbus 3254
Montana Park
1059

 Skryf asseblief agterop die tjek dat dit in hierdie rekening gedeponeer moet word:
Rekening Naam: Die Greeff Familie Rekening
Rekening Nommer: 62146224499 (Tjek rekening - Current Account), Eerste Nasionale Bank
Taknommer: 251037
Tak Naam: KOLONADE

 Alternatiewelik kan ‘n deposito by enige tak van Eerste Nasionale Bank of via die Internet gedoen word.

 Enige oorskot op die skilderyfonds sal vir 'n projek van belang vir die familie aangewend word. Pos jou tjek asseblief vandag!

 

Erfenisdag

Vandag, 24 September 2007, is erfenisdag. Omdat ons familiegeskiedenis so 'n belangrike deel van elkeen se erfenis is, word hierdie nuusblad vandag geloods. Die inhoud van hierdie nuusblad gaan oor ons gemeenskaplike erfenis en oor ons gemeenskaplike familiegeskiedenis, want ons is een groot familie.

 Ek hoop dat julle vandag lekker kuier, ‘n vleisie braai, die dag saam met vriende en familie geniet!

 

Meer omtrent ons nuusblad:

Die Lichtenburgstam

Hierdie nuusblad word maandeliks deur Jan Greeff en Francois Greeff saamgestel en gesirkuleer. Almal in die familie is welkom om 'n bydrae te maak. Enige stories oor die familie is welkom. Stuur jou bydrae aan: Jan@verslank.net of Posbus 4181, Barberton, 1300.

Die adres van ons familie webblad is www.Greeff.info Al die name van die afstammelinge van Kommandant Hendrik Adriaan Greeff wat tans op rekord is verskyn op die webblad www.Greeff.info. Dit is omdat ons almal Greeff afstammelinge is, ongeag van wat ons vanne nou is. Om al die vanne in die stamboom te sien, gaan na:
http://www.greeff.info/tng01/surnames-all.php?tree=Lichtenburgstam Klik dan op enige van.

Klik op die skakel (http://www.greeff.info/tng01/searchform.php) om te kyk of jou naam daar is, en of jou detail korrek aangeteken is. Indien daar nog nie 'n foto van jou of jou voorouers verskyn nie, stuur asseblief een aan my by Jan@verslank.net en ek sal dit op die webblad plaas.

Die Kuiernet bestaan sodat alle lede van die familie maklik met die hele familie kan kommunikeer. Om by ons kuiernet aan te sluit, stuur asseblief 'n epos aan GREEFF-L-request@rootsweb.com, met net die enkele woord, subscribe, as onderwerp en as inhoud. Om weer daaruit te kom, stuur unsubscribe.

Vir die familie wat nie internetfasiliteite het nie, vra asseblief een van die jonger geslag of vriende om jou te help kyk na die webblad en die kuiernet-stories. 

Met vriendelike familiegroete,
Jan Greeff
Barberton
Tel: 013 712 2436
E-pos: jan@verslank.net